Friday 8 July 2011

AKUPUNKTUUR deur Dr. Jan Still

AKUPUNKTUUR
deur

Dr. Jan Still
Akupunktuur is ‘n terapeutiese metode wat in die Oos-Asiese lande ontstaan het. Dit word in beide Sjina, en in ‘n toenemende mate ook in baie Europese lande en in Noord en Suid Amerika toegepas. Akupunktuur is hoogs doeltreffend vir die verligting van pyn en sekere ander mediese toestande in mense en diere.

Volgens tradisionele teorieë verlig akupunktuur pyn en genees siektes deur die vloei energie Qi in die liggaam te harmoniseer. Moderne wetenskaplike navorsing het bevestig dat akupunktuur werk deur selektiewe stimulasie van die senustelsel. ‘n Verskeidenheid van chemikalië soos “neurotransmitters” en “neuromodulators” word vrygestel in verskeie dele van die senustelsel in reaksie tot akupunktuurstimulasie. Dit en ander fisiologiese veranderings veroorsaak deur akupunktuur help dan met pynverligting en ander vorms van genesing.

INDIKASIES VIR DIE GEBRUIK VAN AKUPUNKTUUR IN PERDE
Sogenaamde sagte weefsel beserings wat gekenmerk word deur pyn, styfheid, spierspasma of verlamming, veranderde beweging of lamheid, is die hooftekens vir die gebruik van akupunktuur in perde. Akupunktuur word suksesvol gebruik om sekere ryprobleme te bestuur, by perde wat weier (en in sekere gevalle net nie kan nie) om sekere funksies te verrig as gevolg van die onderliggende pyn en ongerief. Die hooftekens vir die gebruik van akupunktuur in sportperde, Amerikaanse Saalperde ingesluit, is:

SEER NEK
Gekenmerk deur verlies aan buigsaamheid en onvermoë om sywaarts te buig; hoë of lae houding van die nek; pootjie oor voorbene ens. By Saalperde in die besonder, is nekspiere dikwels gevoelig en spasmies, en dit veroorssak menige werksprobleme.

SEER RUG
Dit is ‘n baie algemene toestand wat nie altyd betyds waargeneem word nie. ‘n Seer rug kan ‘n groot oorsaak wees van ongerief by die perd en ‘n rede vir baie ryprobleme. Algemene verlies aan beweeglikheid; verandering van temperament; stert swaai; onbeheerbare op loop sit; spring; op die agterpote staan en minige ander tekens kan ‘n indikasie wees van pyn in die rug. Die laer rugarea in besonder is onder druk by Amerikaanse Saalperde. Hierdie toestand kan veral in verband gebring word met verminderde dryfkrag van die agterkwart, asook algemene gebrek aan soepelheid.

VERKEERDE BEWEGING VAN DIE LEDEMATE EN LAMHEID
Akupunktuurbehandeling is doeltreffend vir die behandeling van sagte weefselbeserings geleë in die skouer, heup en laer boud (“stifle”) areas. Hierdie beserings kan ‘n oorsaak wees van enkel- of meerledemaat styfheid, verkorte tree, kortaf of ongelyk gang, of lamheid.

As gevolg van die rasverwante geaardheid van die beweging en metodes van afrigting, is spierspanning en ander tipes beserings in die laer nek en skouer algemeen by die Amerikaanse Saalperd. Ander probleme wat dilwels voorkom is styfheid in die boonste gedeelte van die nek en knie-sening spiere aan die agterkant van die agterste ledemate. Gerekte spiere of ligamente, of ge-irriteerde (“geknypte”) senuwees word doeltreffend gediagnoseer en behandel met akupunktuur in sulke gevalle.

ALGEMENE LIGGAAMSPYN EN STYFHEID
Sommige perde wat swak werksvermoë of moeilike gedrag toon word daaropvolgend gediagnoseer met algemene spierpyn en spasma. Hierdie ongewenste toestand mag ontstaan as gevolg van oormatige liggaamsspanning wat verband hou met afrigting, kompetisies, of as gevolg van ongelukke. Dit blyk dat daar unieke vatbaarheid vir die toestand by sommige perde is.

SAGTE OF HARDE BEK
Sommige perde ontwikkel buitengewone gevoeligheid by bepaalde senuwees in die kop. Die skerp pyn mag ‘n reeks ryprobleme veroorsaak, soos abnormale gevoeligheid vir die stang, swaar in die toom, kopskud of in die lug opgooi, asook weerstand wanneer die perd na ‘n spesifieke kant toe gedraai word.

GEVOELIGE BORS
Hierdie toestand word waargeneem deur oordrewe gevoeligheid van die perd wanneer die buikgord vasgetrek word. Dikwels sal die perd neig om onbeheerd weg te hardloop of weier om vorentoe te beweeg.

In die algemeen, as die perd begin weier om sy normale take te verrig tydens afrigting of in kompetisie, of wanneer hy in ‘n ander of ongewenste manier optree, kan ‘n onderliggende pyn in die spier- en skeletale stelsel vermoed word. Dit is krities vir die perd se welvaart, asook vir die ruiter se se veiligheid om die onderliggende redes vir die pyn doeltreffend te bestuur. Suksesvolle pynbestuur, hetsy deur akupunktuur of ander veeartsenykundige metodes behandel, mag baie voordelig wees in die vorm van verbeterde werksvermoë. Meer besonderhede hieroor en ander onderwerpe kan gevind word op my webblad www.animal-acupuncture.co.za

Besoek ons webblad  http://www.easyhorse.info/ 
vir maklike, praktiese, doeltreffende afrigtingsmetodes wat enige leek en beginner suksesvol kan toepas.


Hou ons volgende blog dop vir die res van hierdie artikel.

No comments:

Post a Comment