Sunday 25 September 2011

HOE OM VREES IN ‘N JONG PERD TE BOWE TE KOM

HOE OM VREES IN ‘N JONG PERD TE BOWE TE KOM

  Image0054

Daar is verskillende benaderings en metodes om ‘n perd te help en te leer om vrees te bowe te kom. Vir die doel van hierdie artikel sal ons op een benadering konsentreer. 

Daar is wel ander benaderings wat lynreg teenoorgesteld van hierdie is, waarmee mense ook goeie resultate behaal.

Die beginsel wat ons hier toepas is dat die perd hom tot jou wend vir beskerming en sekuriteit. Die metode wat ons toepas is om die perd los te laat in ‘n ronde kraal omtrent 2 meter hoog en 16 meter in deursnit. Versprei 4 of 5 mense eweredig om die kraal aan die buitekant, elk met ‘n plastiek bottel met ‘n paar klippe in, om soveel lawaai as moontlik te maak, terwyl hulle teen ‘n normale spoed rondom die kraal loop. Hierdie mense loop almal teen dieselfde pas, dus bly hulle ewe ver van mekaar af.

Aanvanklik sal die perd buite himself raak. Na 5 tot 10 minute sal hy waternat gesweet wees. Dit maak nie saak watter kant toe hy draai nie, hy loop hom vas in die nare lawaai.

Normaal weg neem dit 15 tot 20 minute voordat die perd besluit dat hy ‘n vennoot nodig het, iemand met wie hy kan saamwerk, wie aan hom sekuriteit en beskerming kan bied teen hierdie “gevaarlike bedreiging”. Die perd sal eers begin kou en speel met sy tong en lippe – ‘n teken van gewilligheid om saam te werk en te onderhandel. Daarna sal hy een uit die groep om die kraal uitkies aan wie hy naby wil bly en wie hy wil volg. Gedurende hierdie periode hou al die mense aan met loop en bottels skud.

Sodra dit duidelik word dat die perd sy vriend uitgekies het, gaan daardie person in die kraal in, maar hy loop in sirkels geleidelik nader aan die perd. Gedurende hierdie fase bly kyk die persoon op die grond en vermy oogkontak. Oogkontak word beskou as ‘n teken dat jy die perd van jou af wil wegjaag (aggressie). Deur jou skouer na die perd toe te draai en op die gronsd te kyk is tekens dat jy bereid is om die perd in jou gebied toe te laat.  

Teen hierdie tyd sal die perd normaalweg verkies om na aan jou te bly en om vir jou as ‘n vorm van sekuriteit en beskerming teen die “gevaar” aan die buitekant te sien.

Jy kan nou in sirkels beweeg, draaie en in alle rigtings loop, en die perd behoort jou te volg. Dit is ook nou die tyd dat die res van die mense aan die buitekant stadigaan moet deurklim na die binnekant van die kraal, en rondloop in die kraal, terwyl hulle steeds die bottels skud en geleidelik naderkom.

Op hierdie stadium moet jy in die middel van die kraal stilstaan en die perd oral oor sy lyf vryf, van die kop tot by die agterkwart, oor sy rug en kruis, sy ribbe en pens, terwyl die ander aanhou om die bottels te skud en om die perd loop. Gee baie aandag daaraan om die mees sensitiewe dele te vryf (die mees waardevolle dele): sy oë en ore.  

Julle het nou “gebind”. Die perd het jou verkies as sy leier en as beskerming teen enigiets waarvoor hy bang is. Hy het ook gewoond geraak aan geraas, en besef
  1. Dat geraas hom nie sal seermaak nie, dus hoef hy nie vir geraas bang te wees nie.
  2. Hy kan op jou staatmaak wanneer hy onseker voel.
U kan die hele proses van hier af aan lees, tot waar jy die tuie ens. opsit, opklim en inspan voor ‘n kar, en begin ry of dryf, in die volledige perde handleiding EASY HORSE. 

U kan hierdie artikel en baie ander lees deur op hierdie link te kliek

U kan ook die volledige handleiding oor perde afrigtingbestel op http://www.greenhorsetrainingbook.org/order/

No comments:

Post a Comment